Groep van Sewe

Die lidlande van die Groep van Sewe (G7) en hulle verteenwoordigers tydens spitsberade.
Groep van Sewe
Groep van Sewe
Duitsland – Bondskanselier Olaf Scholz
Frankryk – President Emmanuel Macron
Italië – Eerste Minister Mario Draghi
Japan – Eerste Minister Fumio Kishida
Kanada – Eerste Minister Justin Trudeau
Verenigde Koninkryk – Eerste Minister Boris Johnson
Verenigde State – President Joe Biden

Die Groep van Sewe (kort G7) is 'n informele forum van die Westerse wêreld se leidende nywerheidslande wat in 1975 in die lewe geroep is. Die G7 se staats- en regeringshoofde kom gereeld vir spitsberade byeen om ekonomiese en ander kwessies te bespreek. Die G7 bestaan tans uit Duitsland, Frankryk, Italië, Japan, Kanada, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State. Die Russiese Federasie, wat in 1998 tot die forum toegetree het wat vervolgens as Groep van Agt bekendgestaan het, is ná die anneksasie van die Krim-skiereiland op 25 Maart 2014 uitgesluit. Die forum het sodoende na sy oorspronklike formaat teruggekeer.[1][2]

Staats- en regeringsleiers tydens die 43ste G7-spitsberaad in Taormina, Italië: Donald Tusk, Justin Trudeau, Angela Merkel, Donald Trump, Paolo Gentiloni, Emmanuel Macron, Shinzō Abe, Theresa May, Jean-Claude Juncker (van links na regs)

Die Europese Gemeenskap (sedert 1993 die Europese Unie) neem sedert 1977 aan die spitsberade deel en word deur die Europese Kommissie en die land, wat op dié tydstip die roterende presidentskap van die Europese Unie beklee, verteenwoordig.

Die forum het hom aanvanklik op die koördinasie van die lidlande se ekonomiese beleid toegespits, maar het later ook begin om internasionale vraagstukke soos die stryd teen armoede in die ontwikkelende lande, werkloosheid, die stryd teen misdaad en terrorisme en die proliferasie van massavernietigingswapens te behandel.

Die eerste internasionale ekonomiese spitsberaad van die (destyds ses) leidende nywerheidslande het in 1975 as G6-spitsberaad op inisiatief van die Franse regering in die kasteel van Rambouillet (Frankryk) plaasgevind.

  1. (en) "U.S., other powers kick Russia out of G8". CNN. 25 Maart 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 April 2020. Besoek op 30 November 2018.
  2. (en) "Russia just quit the G8 for good". The Independent. 13 Januarie 2017. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 September 2019. Besoek op 30 November 2018.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search